Die Burger, deur Jana Breytenbach
Nog ‘n prokureur is voor die hof gebring nadat sy glo meer as R200 000 van ‘n boedel gesteel het.
Kobie Nieuwenhuis (55) van Bellville is op 11 September deur die Valke se eenheid vir ernstige kommersiële misdrywe in hegtenis geneem.
Lt.kol. Siyabulela Vukubi , woordvoerder van die Valke, het gesê Nieuwenhuis is deur ‘n lasbrief in hegtenis geneem en het Donderdag in die landdroshof in Bellville verskyn op aanklagte van bedrog en diefstal.
Vukubi sê Nieuwnhuis is as prokureur, notaris en akte-besorger toegelaat en het vanaf Oktober 2010 tot Desember 2014 onder die naam Nieuwenhuis Prokureurs gewerk.
In 2011 het die meester van die hooggeregshof in Kaapstad haar as die eksejuteur van ‘n boedel van wyle CK Flores aangestel.
Luidens Vukubi was Nieuwenhuis veronderstsel om die uitbetaling van die boedel in ‘n trustrekening te betaal, maar sy het na bewering tussen Maart 2011 tot Desember 2014 R243 600 in haar persoonlike bankrekening inbetaal.
Na verneem word het die erfgename van die boedel die saak by die polisie aangemeld en die Valke het dit begin ondersoek. Nieuwenhuis is toe vroeër die week in hegtenis geneem.
‘n Week gelede is nog ‘n prokureur, Michael Jennings (54), in Glencairn by sy huis in hegtenis geneem.
Hy staan tereg op aanklagte van bedrog en diefstal nadat hy na bewering meer as R1 miljoen van sy kliënte wanbestee het.
Dit is die eerste keer dat Jennings strafregtelik vervolg word, maar hy is reeds deur die Regspraktykraad (RPR) ondersoek, skuldig bevind en op 13 Junie deur die hooggeregshof in Kaapstad van die rol van regspraktisyns geskrap.
Volgens die RPR is Jennings in September 2022 die eerste keer by hulle verkla oor beweerde onvanpaste optrede as ‘n regspraktisyn.
Die RPR het hom in Desember 2022 intern geskors omdat hy nie ‘n getrouheidsfonds sertifikaat gehad het nie.
Hy is tot einde Januarie 2023 gegee om een te kry, maar het dit nie gedoen nie en mag dus nie meer as prokureur gewerk het nie.
Jennings sou Vrydag in die landdroshof in Stilbaai verskyn het en sou na verneem word om borgtog aansoek doen.
Navrae oor sy aansoek is na die Nasionale Vervolgingsgesag gestuur, maar teen druk tyd is nog geen reaksie ontvang nie.
Intussen is Nieuwenhuis se saak tot 19 September uitgestel sodat die staat haar borgtoginligting, oor onder meer ‘n adres en of sy ‘n paspoort het, kan bevestig. Sy wil ‘n aansoek om borgtog indien.