Ralph Stanfield (46) en sy vrou, Nocle Stanfield (nee Johnson), is volgens die staat aan die stuur van ‘n misdaadonderneming.
Die staat het gister in die landdroshof in Kaapstad die sake teen sowel die Stanfields as Malusi Booi, voormalige burgermeesterskomiteelid vir menslike ndersettings in die Kaapstad metro, en ander teruggetrek – en toe as een groot saak teen hulle heringestel.
Adv. Frank van Heerden, staatsaanklaer, het aan die hof gesê die aanklagte teen die eerste groep beskuldigdes – die Stanfields en 12 ander – hou verband met beweerde bendebedrywighede. Die aanklagte teen die tweede grope (met Booi as hoofbeskuldigde) hou verband met beweerde rampokkery en korrupsie vir “Ralph Stanfield en Nicole Johnson se misdaadonderneming”.
Die staat het gesê al die sake waarby die Stanfields betrek word, word saamgevoeg in een saak omdat die sake oorvleuel. Dit beteken die vuurwapenlisensiebedrogsaak wat verlede maand in die streekhof teen hulle en 21 ander mense teruggetrek is, gaan ook by die saak gevoeg word.
‘n Saak van regsverydeling waarin familielede van die Stanfields in die landdroshof in Bellville teregstaan, gaan ook bygevoeg word.
Booi en sy medebeskuldigdes in die tenderbedrogsaak van meer as Rmiljard gaan nou saam met die Stanfields en hul medebeskuldigdes teregstaan weens die moord op Rashied Staggie, leier van die Hard Livings-bende, in Soutrivier in Desember 2019, en die moord op Wendy Kloppers in Februarie verlede jaar by ‘n konstruksieperseel van die Kaapstad-metroraad in Delft. Kloppers het vir die metroraad gewerk.
Die hof het ook gehoor dat een van Booi se medebeskuldigdes, Abdul Kader Davids, verlede maand in Beacon Valley doodgeskiet is twee dae nadat hy op borgtog van R250000 vrygelaat is. Die staat het egter nog nie sy doodsertifikaat ontvang nie. Sy naam sal van die klagstaat verwyder word sodra die staat dit het, het Van Heerden gesê.
Twee nuwe name – die van Keathan Gardiner en Duncan van Wyk – is ook by die oorspronklike Stanfield groep gevoeg. Gardiner word aangekla van die onwettige besit van ‘n vuurwapen.
Stanfield en sy medebeskuldigdes het gister weer via Teams in die hof verskyn. Hul onderskeie regsverteenwoordigers was egter nie gelukkig met die reëlings nie en het onder meer kapsie gemaak oor die min plek vir die verdediging. Hulle het ook gesê hul kliënte kon nie hoor wat in die hof aangaan nie en dat hul nie met hul kliënt kan konsulteer nie.
Die staat het uitstel tot einde Januarie 2025 gevra omdat die inligting van selfone en nekenaars waarop hulle onlangs beslag gelê het nog afgelaai word en ontleed moet word. Die staat wag ook op art. 205-aansoeke vir bankrekeningnommers waarop hulle onlangs afgekom het tydens ‘n deursoeking van die Stanfields se vulstasie in Bishop Lavis. Daar is ook nuwe getuies wat onlangs na vore gekom het wie se verklarings nog geneem moet word.
Ook hiermee was die verdeging nie tevrede nie. Hul regsverteenwoordigers het gesê baie van hul kliënte is nou al vir langer as ‘n jaar in aanhouding, dat die staat vra vir uitstel op uitstel, dat hul kliënte se regte op spoedige en regverdige verhore misken word en dat hulle sou verwag het dat die staat se saak teen die tyd al afgehandel sou wees.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gister gesê die moontlikheid is groot dat daar uiteindelik tot 40 mense in die beskuldigdebank kan staan.
Die verhoor sal uiteindelik in die hooggeregshof in Kaapstad plaasvind.