Man bewaak wat glo kleuter en homself met mes steek

Die Burger, artikel deur Jackie Kruger

‘n Man wat homself glo met ‘n mes gesteek het in ‘n voorval by ‘n winkelsentrum in Durbanville, Kaapstad, waarin ‘n kleuter glo ook beseer is, was gister steeds onder polisiebewaking in die hospitaal.

Die voorval het Saterdag by ‘n speelplek by die winkelsentrum gebeur. Die polisie het vroeër gesê die omstandighede van die voorval word ondersoek en dat polisielede Saterdag op ‘n klag by ‘n plaaslike winkelsentrum gereageer het. Met die polisie se aankoms by die winkelsentrum het hulle ‘n man aangetref wat buite beheer was en beserings opgedoen het wat hy homself met ‘n mes toegedien het.

Die man het gedreig om die polisielede met die mes te steek. Hulle het die man ontwapen hy is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.

Volgens die polisie bly dit ‘n kleuter (wie se ouderdom nie bekend gemaak is nie) is ook na ‘n hospitaal geneem.

Die man is in die hospitaal onder polisiebewaking omdat hy weens poging tot moord aangehou word.

Die toestand van die kleuter is onbekend, asook presies wanneer die man in die hof sal verskyn.

AO Joseph Swartbooi, ‘n polisiewoordvoerder, het Die Burger gister by navraaag verwys na die polisie se aanvanklikge kommentaar op die voorval. “Die man se hofverskyning word nie bepaal deur wanneer hy uit die hospitaal ontslaan word nie omdat die saak in absentia op die hofrol geplaas kan word en dan tot ‘n geskikte datum teruggehou word,” sê Swartbooi.

Titanium Securitas, ‘n gewapendereaksie-en-nooddiensteverskaffer, het Saterdagaand in ‘n kort verklaring op sy Facebook-blad gesê sy mediese reaksiespan het die oggend omstreeks 11:40 by die Engen-vulstasie in Durbanville silgehou om verversings te kry. Die lede was langs hul voertuie besig om die verversings te geniet toe ‘n ander voertuig aangejaag kom en langs die ambulans stilhou.

Luidens die verklaring het die mediese span dadelik gesien iets is fout. Hulle het die voertuig genader en ‘n bebloede vrou en ‘n kind met steekwonde aan sy nek aangetref. Die vrou is glo die kind se ma. Titanium se mediese span het dadelik die kind in die ambulans gelaai om hom te stabiliseer en hom toe na die Durbanville Mediclinic geneem. Met hul aankoms by die hospitaal het Titanium se mediese span verneem dat ‘n man, blykbaar die kind se pa, in daardie stadium steeds op die misdaadtoneel was.

Luidens die verklaring is Titanium se mediese span na die beweerde misdaadtoneel waar die man blykbaar met ‘n groot mes in die speel-area was. Met bystand van die polisie is die man aangekeer en op die toneel behandel. Nadat die man gestabiliseer is, is hy onder polisiebewaking in ‘n kritieke toestand na ‘n ander mediese inrigting geneem.

Luidens die verklaring het die pa glo sy eie kind gesteek en toe homself met die mes begin steek. Die speelplek was Saterdag na die voorval gesluit, maar was gister weer oop. Die winkelsentrum het Saterdag in ‘n verklaring gesê geen ander besoekers was in enige stadium in gevaar nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

To Top