Burgermeester ‘gee samewerking aan owerheid’

Die Burger, artikel deur Marelize Barnard

Die burgermeester van die Bergrivier-munisipaliteit was gister terug op sy pos nadat hy Woensdag deur die polisie ondervra is.

Tay van Rooy, van die DA, het by navraag gesê hy wil nie in die stadium kommentaar lewer nie en sal later met die hulp van sy prokureur ‘n amptelike verklaring uitreik.

“Ek is op kantoor. Daar is te veel beweringe. Ek wil nie nou praat nie,” het Van Rooy gesê.

Van Rooy se ondervraging was op dieselfde dag dat die polisie dwelms by ‘n huis in Piketberg gekry het.

Lt.kol. Malcom Pojie, provinsiale polisie-woordvoerder, het by navraag gesê ‘n aansienlike hoeveelheid dwelms en ammunisie is op die eiendom in Piketberg gekry en dat die saak verder ondersoek word.

Die Bergrivier-munisipaliteit sê in ‘n verklaring daar kan bevestig word dat Van Rooy Woensdag deur die polisie vir ondervraging ingeneem is en dat hy Woensdagaand laat gaan is en weer gister by die werk was.

“Die munisipaliteit neem kennis van die openbare kommer oor mediaberigte en boodskappe op sosiale media. Dit is ‘n regskwessie wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens hanteer word,” lui die verklaring van die kantoor van die munisipale bestuurder se kommunikasieafdeling. Daarin word genoem dat Van Rooy en die munisipaliteit onderneem om hul volle samewerking te gee aan enige wetstoepassingsafdeling wat die saak hanteer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

To Top