‘n Ma, dogter en kleindogter het gisteroggend net buite Tulbagh gesterf nadat kratte pruime van ‘n verbygaande vragmotor op hulle geval het terwyl hulle dorp toe geloop het.
Volgens Billy Claasen, hoof van die Landelike en Plaaswerker-ontwikkelingsorganisasie, het die 58-jarige ma en haar 25-jarige dogter op die toneel aan hulle beserings beswyk, terwyl die dogter se 8-jarige kind later in die Ceres-hospitaal gesterf het.
Haar nege maande oue babaseun is na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas.
Die polisie het nie die oorledene se identiteite bekend gemaak nie.
Volgens kol. Malcolm Pojie, ‘n polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 10:00 op Drostdyweg plaasgevind.
Dit het gebeur terwyl die vier van die plaas Vooruitsig onderweg dorp toe was en ‘n vragmotor wat pruime vervoer sy vrag teen hoë spoed op ‘n draai in die pad verloor het.
Volgens Claasen was die vier op pad om skoolklere en ander benodighede in die dorp te koop. Die ma en dogter het glo op die plaas gewerk.
Claasen het gesê voorlopige ondersoeke dui daarop dat die kratte nie behoorlik op die vragmotor vasgemaak was nie. Die vragmotor is deur die owerheid ondersoek en die 31-jarige bestuurder is daarna op verskeie aanklagte van strafbare manslag in hegtenis geneem, het Pojie gesê.
Die bestuurder sal eersdaags in die plaaslike landdroshof verskyn.