Ma kry interdik teen pa wat op borgtog is

Die Burger, artikel deur Ane van Zyl

Die man van Durbanville wat daarvan aangekla word dat hy sy babaseun van 18 maande met ‘n mes probeer doodsteek het, is Donderdag op borgtog van R2000 vrygelaat.

Die 35-jarige man se vrylating het sy eksvrou “uiters teleurgesteld” gelaat en sy het die hooggeregshof die volgende dag genader vir ‘n bevel om hom van haar en hul minderjarige kind weg te hou.

Die gesinslede mag nie geidentifiseer word nie om die identitiet van die minderjarige slagoffer te beskerm.

Die pa word daarvan aangekla dat hy op 25 Januarie sy seun probeer doodmaak het deur hom met ‘n mes in die nek te steek, waarna hy probeer het om sy eie lewe met dieselfde mes te neem.

Die gruvoorval het by ‘n binnenshuise kinderspeelpark in Durbanville gebeur nadat die pa die seuntjie na die babakleedkamer geneem het om sy doek om te ruil.

Die kind se ma was ook teenwoordig en was na verneem word die een wat alarm gemaak het toe die pa en kind nie by die kleedkamer uitkom nie.

Die personeel het die deur gaan oopsluit en die seuntjie is met steekwonde aangetref.

Die man het verskeie meswonde, waarvan sommige baie diep was, aan sy nek gehad. Daar was ook baie bloed. Albei het egter die voorval oorleef en is in die hospitaal behandel.

Die pa was ‘n geruime tyd onder streng polisiebewaking in die hospitaal in ‘n geinduseerde koma, maar het Donderdag in die landdroshof in Bellville verskyn op ‘n aanklag van poging to moord.

“Die verdagte is onder baie streng voorwaardes op borgtog van R2000 vrygelaat,” het kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, gister gesê.

Meer besonderhede oor die borgtogvoorwaardes en die datum van sy volgende verskyning kon nog nie bekom word nie.

Die seuntjie se ma was luidens ‘n brief van haar prokureur “verstaanbaar uiters teleurgesteld met die uitkoms van die borgtogverrigtinge toe sy Donderdag daarvan te hore kom”.

“Aangesien ons kliënt nie op die hoogte gehou is van die verwikkelinge in die vorgtogverrigtinge nie, kan sy nie kommentaar lewer oor die staat se hantering van die saak nie,” lui die brief.

Die ma het egter Vrydag ‘n interdik in die hooggeregshof in Kaapstad bekom ingevolge waarvan die pa se bestaande regte opgeskort is en hy verbied en daarvan weerhou word om met die kind of met haar kontak te maak.

“Die hooggeregshof in Kaapstad het gelas dat indien daar enige kwessie met betrekking tot die kind opduik wat deur enige van die partye gekommunikeer word, die kommunikasie via ons kantoor sal geskied,” lui die brief. “Om die veiligheid en welstand van die minderjarige kind te verseker, bly ons kliënt se primêre bekommernis.”

Die Burger verneem die seuntjie is uit die hospitaal ontslaan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

To Top