Verslag deur Jana Breytenbach, Die Burger
Twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat owerhede onwettige perlemoen ter waarde van R3 miljoen by ‘n huis in Edgemead in Goodwood gevind het.
Kol. Philani Nkwalase van die Valke het gesê lede van die Valke se eenheid teen georganiseerde misdaad het saam met misdaadintelligensie en lede van die department van landbou, bosbou en visserye gewerk om die saak te ondersoek en die verdagtes vas te trek.
Die twee mans, onderskeidelik 38 en 49 jaar oud, word aangekla van die oortreding van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne.
Nkwalase het gesê wetstoepassers het ‘n klopjag by ‘n perseel in Westhovenstraat in Edgemead uitgevoer en ongeskulpte, halfgaar en gedroogde perlemoen gevind.
Die geprosesseerde perlemoen het ‘n waarde van sowat R3 miljoen, het Nkwalase gesê.
Die beskuldigdes het gister in die landdroshof in Goodwood verskyn op aanklagte van die onwettige bestuur van ‘n perlemoenfasiliteit en die besit van perlemoen.